HANTAM VLEISFEES CALVINIA 24 & 25 AUGUSTUS 2012
Sowat 400km vanaf Kaapstad (en net so ver van Upington) in die noordweste van
ons land lê Calvinia. Dis skaapwêreld en die laaste naweek in Augustus is almal
en alles in en om die dorp in rep en roer wanneer die jaarlikse Vleisfees
plaasvind.
Vanjaar gaan dit reeds die 24 ste fees wees en die hoofdoel daarvan is steeds,
soos in 1990 toe alles begin is, om die heerlike, geurige skaapvleis van die
streek te bevorder.
Destyds is besluit dat die verskillende snitte van die skaapkarkas in
proe-porsies te koop aangebied sou word deur die onderskeie boereverenigings van
die distrik met as beskermliggaam die Calvinia-Landbou-Unie. Daar sou by die
vleiskos ook musiek en arena-vermaak bygewerk word. En siedaar, vanjaar se
wenresep lyk nog nes daardie destydse een!